Sokkie koring

Posted by Thys on Fri August 30, 2019 in HISTORY.

Onlangs het Kolonel Wynand du Toit, (oud recce, destyds krygs-gevangene in Angola, en nou skrywer) op Fleckvieh gaste plaas oorgebly. Groot was my verbasing toe hy vertel van Sokkie koring wat sy pa destyds in die Swartland geplant het. Ek kon hom toe die volgende verhaal vertel hoe my oupa, sy broer oom Jannie en my pa, betrokke was in die tot standkoming van hierdie besondere koring kultivar. Om dit te staaf het ek boonop die ou koerant uitknipsel vanuit die Volksblad byderhand gehad.

Stop van Myne
Volksblad, Bloemfontein 26 April 1962- Renier


 Ek kan my beswaarlik `n streek in ons dierbare ou Vaderland voorstel, waar die mense so spontaan hartlik en gasvry kan wees as die Boere van die Suidwestelike Distrikte. Die mense leef goed, is nog konserwatief geneig, maar hulle is deurgaans welvarend en tot betreklik onlangs, so is ek gesaghebbend verseker, het die Landbank nog nie 'n enkele verband op `n plaas in Swellendam gehad nie. Daar is seker min distrikte in ons land waarvan dit gesê kan word.

Ou vriende uit my jonger jare wat net so arm soos ek was, is vandag ryk mense met dik tjekboeke. Een van hulle is oom Thysie Swart,`n nederige minsame man, hardwerkend en ondernemend van gees. OomThysie skrik nie vir moeilikhede nie, daarom is hy vandag wat hy is. Dit weet elke Bolandse koring boer, maar wat meeste koringboere nie weet nie, is dat hy inderdaad die vader is van die bekende en gewilde koringsoort wat bekend is as „Sokkie-koring" of die „Swart-koring". Boere het my verseker, dat hulle in die Boland nog nooit 'n koringsoort geken het, wat oor soveel jare so `n volslae sukses was as die Sokkie koring nie. - ook bekend as Kenia koring. Verlede jaar het hierdie koring vir die eerste maal roes gekry, ten spyte daarvan was die oes omtrent deurgaans nog eerste graad.

Oor die ontstaan van hierdie koring soort kan ek die volgende vertel:
'n Broer van oom Thysie, prof. dr. J. C. Swart van Elsenburg, was in Kenia op besoek en die koring het so `n indruk op hom gemaak, dat hy besluit het om van die koring met hom saam na die Unie te bring - kom wat wil. Die doeanemense sou dit nooit toelaat nie, maar met 'n klein handtjievol koring in sy sokkies het hy oor die grens gekom. 

(Oom Jannie was genooi om Friesbeeste in Kenia te gaan beoordeel tydens `n skou. Tydens sy besoek aan Kenia word daar verskeie Landbou navorsings stasies aan hom gewys o.a ook `n koring navorsingstasie. Hy merk `n besondere mooi lappie koring op en stap daarheen. Heel opsigtelik pluk hy twee mooi groot are en plaas dit in die band van sy hoed, soos dit menige Boerklong se gewoonte was. By die lughawe plaas hy die twee are in sy sokkies sodat dit nie so opsigtelik is nie.)

Terug in die Unie het hy die koring onder sy twee broers, oom Thysie en oom Loutjie, verdeel. Van oom Loutjie se paar korrels het niks tereg gekom die, maar oom Thysie het beter gevaar. Die eerste paar stoele van hierdie koring het in `n blomtuin op Swellendam opgeskiet en gedra. (In 1949 is Matthys, oudste seun van oom Thysie skool toe op Swellendam. Matthys het loseer by sy tante, oom Thysie se suster wat naby die Drosdy gewoon het op Swellendam. Matthys was altyd baie lief vir die grond en het dadelik begin om `n groente tuin aan te lê. Matthys kon nie onthou of hy die koring aar af gesoebat het van sy pa nie, en of dat hy dit net uitgevryf het en in sy tuin gaan plant het. Wat hy wel onthou is dat hy op die stoep van sy tannie gesit het en hierdie koring aar sit en uitvryf het. Twee en twintig goue koring pitte het in `n bekertjie geval. Matthys het dit in `n akkertjie taamlik wyd gespasieerd geplant. Dit het baie goed gestoel en was veel hoër as Matthys toe dit begin aar. Matthys kon onthou dat sy tannie die are met `n tou rondom op gebind het. Oom Thysie het met `n sekel die koring kom afsny toe dit geelryp was en die gerwe het op Koesanie se solder vir `n jaar oor gehang. )

Daardie oes het oom Thysie die volgende jaar (1951) op sy plaas gesaai en redelik goed gevaar.( Dit is in die jaar weer met sekels gesny en met stokke uitgeslaan. In 1952 is die koring vir die eerste keer met `n stroper geoes.)

So het hy jaar na jaar gesaai en geoes en eers die vierde jaar kon hy met `n oes spog van twee sakke. Nou was die stryd gewonne en die vyfde jaar kon hy twee sak van die koring saai. By die tyd was oom Thysie reeds oortuig dat hy in besit was van `n koringsoort wat die land in beroering gaan bring. En dit is ook net wat gebeur het. Daardie jaar het hy sestig sak gewen. Boere het toe al baie oor Thysie Swart se koring gesels en van heinde en vêr is navraag na die nuwe soort koring gedoen. Maar oom Thysie is `n geheimsinnige man en wou nie baie gesels nie. Van die sestig sak het hy dertig vir homself gehou en dertig is tot beskikking van ander koringboere gestel. Maar nie aan elkeen nie, eers sy goeie vriende is begunstig. (1954)

Boere het uit Malmesbury en Caledon gekom om die koring te sien. Dit is nie bekend wie eerste van Swart-koring of Sokkie-koring gepraat het nie, maar die naam het spontaan posgevat. Na ses jaar was oom Thysie in staat om dertig sak sokkie-koring te saai en het 900 sak gewen, daarvan het hy 700 sak tot beskikking van boere gestel. Intussen het die Koringraad van hierdie nuwe koringsoort gehoor, want destyds was daar geen onderwerp van bespreking waaroor boere so geesdriftig gesels het as oor die Swart-koring nie. Die Koringraad wou toe van oom Thysie weet wie hom die reg gegee het om koring aan ander boere te verkoop. `n Boer het dan selfs nie eers die reg om vir `n vriend `n halfsak meel te gee nie! Oom Thysie is `n man wat reguit loop en reguit praat. Hy ken geen slinkse draaie nie en het die Koringraad laat weet dat hulle maar by die Kooperasie op Swellendam navraag moet doen. Hy het sy koring aan die Kooperasie besorg. Dit was die laaste navraag van ampsweë wat na sy koring gedoen is.

Boere verseker my dat hulle nog nooit `n beter koringsoort geken het nie en in later jare het koringboere in die Boland ook geen ander koring geplant nie. Vir die eerste maal in 12 jaar het die koring verlede jaar ook roes gekry, maar die oes was omtrent deurgans nog eerste graad.

Die Sokkie-koring het die boere baie duisende der duisende ponde in die sak gebring. Hy is bestand teen droogte en slaan ook nie uit nie, al waai die wind hoe sterk.

As blyk van erkentlikheid vir wat oom Thysie vir koringboere in besonder en vir die land in die algemeen gedoen het, is hy en sy gade, tant Judith, by `n geskikte geleentheid deur Swellendamse kooperasie op `n eetmaal onthaal. Dit was `n goeie gedagte want oom Thysie het so `n huldiging dubbel en dwars verdien, maar hy is nie `n man wat roem of eer nastreef nie. Dit is verganklike dinge wat mot en roes verteer.

Oom Thysie en tante Judith in `n land vol Sokkie koring

Hierdie artikel is die eerste wat in die koerant oor die ontstaan van sokkie-koring verskyn. En nou `n vraag aan die Vrystaatse koringboere. Hoe aard die sokkie-koring in die Vrystaat? Hoe die koring in Kenia ontstaan het, weet ek ongelukkig nie, ook nie prof. dr. Swart nie. (Einde van koerant berig)

(Saamgestel deur MJ Swart die 4de vanuit die Volksblad en onderhoud voering met my vader MJ Swart die 3de, wie hierdie koring die eerste keer geplant het as jong seun in die tuin van sy tante)