Historiese Grootvadersbosch - 300 jaar oud!!!

Posted by Thys on Mon January 1, 2024 in HISTORY.

Grootvadersbosch is `n geskiedkundige plaas, trouens ouer as Swellendam self. Reeds op 26 Augustus 1724 is Grootvadersbosch aan landbouer Roelof Olofsz toegestaan „om te gaan leggen en weijden onder de Grootvadersbosch"..... Abraham Schietekat het reeds hier skool gegee in 1744, terwyl die ou heemrade nog gesoek het na `n geskikte plek om die Drosdy te bou.

Die Overberg stormloop

 Hieronymous Cruse se ekspidiesie van 1667 vorder tot by die Gourits rivier en `n jaar later reis hy vanaf die Kaap tot Mosselbaai. Op 4 Januarie 1689 vertrek vaandrig Isaq Schrijver op `n ekspedisie om beeste van die Inkwa Khoi te ruil. Die Inkwa sou hulself iewers in die oostelike binneland bevind in die omgewing van die hedendaagse Graaff Reinet. Met 20 man en twee waens het Schrijver die Overberg deurkruis en naby Mosselbaai is hy deur die Attakwaskloofpas, wat `n olifant voetpad oor die berg was, die binneland in. Schrijver keer terug op dieselfde roete met `n 1000 beeste en meld in sy reis joernaal vir die eerste maal van die digte bos wat later Grootvadersbosch sou heet. Hy het ook die Duivenhoks rivier gekruis en die rivier sy naam gegee.   

Die hele Grootvadersbosch vallei, aanvanklik boomryk en dig begroeid, sou later hout voorsien aan die distrik en die Kaap in die vorm van balke en planke, vir die vervaardiging van bou materiaal, meubels en waens. Vanaf 1710 is daar begin om hout te kap in die Grootvadersbosch.

                                Kaart: Die verspreiding van die Khoi stamme voor die pokke uitbraak.

Goewerneur Willem Adriaan van der Stel se veetroppe was die eerste om rondom 1700, die Overberg binne te dring. Hy het gou meer as `n 1000 beeste en 18 000 skape besit. In 1707 word hy deur die kompanjie terug geroep en sy boerdery onderneming kom dramaties tot `n einde. Van Der Stel het ander boere die Overberg uit gehou , maar met sy vertrek was die Overberg nou ontsluit vir ander vee boere. 

Enkele pionier veeboere het kort na 1707 die Overberg ingetrek en leningsplase in die gebied ontvang, veral in drie valleie naamlik die Hartebeest rivier, Kleijne rivier en die Uilenkraals rivier vallei.  Wessel Pretorius (Warmwaters Kraal) en Ferdinand Appel (Botrivier) ontvang weiregte in 1708, Christian Holm (Siekenhuis) en die weduwee Schrijver (boven Siekenhuys) in 1709. David Heufke (Sergeants rivier) 1710 en toe in 1714 my eie stamvader Johannes Swart se twee seuns Pieter en Johannes. Hul vestig hulself onder die eerste 7 pionier veeboere in die Overberg. Pieter naby Uilenkraal en Johannes (Jan) die lenings plaas Zwarte rivier agter den Zwarte Berge naby die huidige Caledon. In 1724 is die eerste leningsplase oorkant die Breede rivier toegeken, Roelof Oelofz te Grootvadersbosch en in 1725 Cornelis van Rooie te Tradouw. In 1731 kry Dirk Cornelis Uys weiregte te Buffeljagts en Andreas Schutte weiregte te Potteberg.

Die Pokke

Daar was drie pokke-epidemies aan die Kaap: in 1713, 1755 en 1767. In die eerste twee gevalle is die siekte na die Kaap gebring deur skepe wat van die Ooste teruggekeer het en in die laaste geval deur ʼn Deense skip.

In Februarie 1713 tref `die eerste pokke ramp die Kaap kolonie. Die Kompanjie se slawe was hard getref en daar het tot agt V.O.C. slawe per dag in die Kaap gesterf. `n Kwart van die blanke bevolking aan die Kaap is binne die eerste ses maande van die pandemie uitgewis.  Die groep wat die hardste getref was, was die Khoi. Met geen weerstand teen die pokke, het sterftes feitlik onmiddelik plaasgevind. Die Khoi het diep die binneland in gevlug om kontak te probeer vermy met die Kaapse populasie. Ongelukkig was die pokke reeds aanwesig en het die pokke ook saam gevlug.  `n Jaar later op 14 Februarie 1714, raporteer van die Khoi oorlewendes  dat in die Overberg nie eens 10% van die Khoi oorleef het nie. 9 uit elke 10 het gesterf.  Khoi stam strukture is totaal verwoes. Die uitwissing het `n einde gebring aan stamme soos die Chainouqua, Hessequa, Gourikwa, Attakwa, Outeniqua, Inkwa en Gonaqua. Klein groepies Khoi wat oorleef het, het verarmd, honger en stamloos in die gebied rond geswerf. Georg Theal skryf: "Whole kraals disappeared, leaving not an individual alive. The very names of the best known tribes were blotted out by the fell disease."  `n Groot te kort aan vars vleis in die Kaap, wat eens van die Khoi geruil was, het die VOC genoop om nou meer veeboere toe te laat om in die Overberg te vestig, sodat hulle die tekort aan vleis kon aanvul. Die swerwende Khoi oorlewendes het goeie kennis gehad van vee boerdery en is deur die vee boere as veewagters indiens geneem.

Die stroom van trekboere het teen 1720 die Breede rivier bereik en 1730 die Gouritz rivier.  Burrows skryf:“ The choicest soil fell to those who trekked ahead, and a grant in the well-watered strip of land skirting the foothills of the Langeberge was the height of the trekboer's ambition. Lush pasturage, unlimited water and timber were as coveted a combination as a farmer could desire anywhere in the world. The Sweetmilk Valley (naby Riviersonderend) and Grootvadersbosch were the choicest plums of the Overberg.”

Teen 1779 was daar reeds 53 leen plase in die Overberg en teen 1809 nie minder nie as 135. Onder die heel eerste inwoners was familie name soos Beukes, Beyers, De Kock, Delport, De Wet, Du Toit, Fick, Geldenhuys, Groenewald, Linde, Morkel, Moolman, Otto, Swart en Wessels, families wat steeds vandag in die Overberg boer.

Grootvadersbosch en sy vier ou plase

Die Duitser O.F. Mentzel het 8 jaar aan die Kaap deur gebring en verlaat die Kaap in 1741. In 1787 publiseer hy sy aantekeninge in `n boek en oor Grootvadersbosch skryf hy as volg: "The extensive Grootvaders Bosch.... has long been known by name, but since it had never before been explored the wood growing there was believed to be suitable only for firewood, but after this forest had been more thoroughly penetrated, it was discovered that timber trees were growing there. Since Grootvaders Bosch had been known for a long time, one might ask why was it not explored long ago? But what was our German fatherland like a thousand years or more ago, when entire regions were covered with impenetrable forests ? Were not more than a thousand pairs of hands set to work before one square mile was cleared? Did not the bears, wolves and other roaming animals first have to be exterminated ? And remember, Grootvaders Bosch lies in Africa where lions, tigers, buffaloes, rhinoceroses, even snakes and scorpions are far more plentiful in the woods than formerly bears and wolves were in Germany. Besides, Grootvaders Bosch have a thick undergrowth of thornbushes that have first to be destroyed slowly and patiently, for which a large number of workers are necessary and these are at present still lacking. In the Grootvaders Bosch tall sturdy trees have already been found, whose genus and species have up to now been quite unknown and which have not yet been given a distinctive name. No doubt, one will find more kinds for all sorts of uses and probably also for shipbuilding when the thornbushes that are almost impenetrably intertwined between the trees have been cleared away a bit. Among these there is a special kind "Wagteen-Beetje," (i.e. "Wait a little"), so called because it immediately clings to one's clothing at the least touch ; indeed it almost draws the clothing towards it and compels the passer-by to stop and free himself. I myself found a shrub, bearing a ligneous fruit enclosed by a thorny peel like a chestnut, but forming a cluster as in a bunch of grapes, whose kernels furnish a palatable oil." (Engelse vertaling van Mentzel se boek)

Die naam Grootvadersbosch is egter bietjie verwarrend en die term bietjie weier as wat mense soms besef. Die meeste mense dink Grootvadersbosch is die klein lappie oorblewende bos wat deur Cape Nature bestuur word. Elmien Wood skryf:  "Die plase aan die voet van die Langeberge wat langs hierdie riviere lê, is besondere mooi plase en van wes na oos is hulle Tradouw aan Buffeljacht, Melkhoutboom, Grootvadersbosch aan de Kruisrivier, Aan de Kliprivier over de Buffeljachtsrivier (Goede Hoop), en Over de Kliprivier aan de Duivenhoksrivier (Klipdrift)." 

 Volgens Burrows  kan die volgende vier plase op die naam Grootvadersbosch aanspraak maak: 

1) Grootvadersbosch gelegen aan de Tradouw genoem Melkhoutboom. 

2) Grootvadersbosch gelegen aan die Kruisrivier genoem Kruis rivier

3) Grootvadersbosch gelegen over de Kliprivier,  genoem Goede Hoop

4) Grootvadersbosch gelegen over de Kliprivier  aan de Duivenhoksrivier, genoem Klipdrift.

Met my deurlees van ou geskrifte is my gevoel dat die aangrensende "Tradouw, gelegen aan de Buffeljachts rivier" ook kon aanspraak maak op die titel deel van Grootvadersbosch aangesien sy geskiedenis ook intens vaskleef aan die van Grootvadersbosch, meer as enige ander aangrensende plaas.

Die 4 Grootvadersbosch plase

                                                                  Die 4 oorspronklike plase

                    Die area vandag, deur die jare opgedeel in kleiner transport aktes.

 

1) Grootvadersbosch gelegen aan de Tradouw genoem Melkhoutboom. (1724)

Die Pionier - "Grootvader" Roelof Olofsz

Die eerste persoon wat die voorreg gehad het om in die Grootvadersbosch area te boer was Roelof Olofsz (Oelofse). Grootvadersbosch is op 26 Augustus 1724  aan hom toegestaan „om te gaan leggen en weijden onder de Grootvadersbosch". (Tomlison P 41) Grootvadersbosch was een van die eerste plase wat oorkant die Breederivier toegeken was. Hierdie plaas is geleë 15 km oos van waar die Buitepos Rietvalleij 5 jaar later uitgelê sou word. Roelof trou in 1729 met Sara Cordier. 1729 is ook dieselfde jaar wat die Buitepos Rietvalleij uitgelê is. Roelof is ongeveer 1694 in die Paarl gebore. Sy vader Anders Olafson (Andries Olofsz) is gebore in Oslo Noorweë.  

Liebenberg skryf: "Daar word steeds bespiegel oor die herkoms van hierdie pleknaam Grootvadersbosch. Een teorie is dat die naam verwys na die oudheid en gevestigdheid van die bos. So beteken "Grootvaders tijd" in Nederlands, die ou tyd, langvervloë dae; net so kon Grootvadersbosch verwys het na die ou woud van langvervloë dae. Grootvader in Nederlands verwys ook na ’n eerbiedwaardige grysaard of ’n hoogbejaarde man. Melkhoutenboom wat daardie tyd die naaste aan Swellendam geleë was, was die plaas waarbinne die bos geleë was. Dié plaas word dus die eintlike Grootvadersbosch omdat die opstal hier die historiese Groot Vaders Bosch-woonplek is. Volgens oorlewering het Olofsen as die “groot vader” bekend geraak. Die eretitel van “grootvader” het op elke nuwe eienaar van hierdie plaas oorgegaan. "

Tradouw, gelegen aan de Buffeljachts rivier

Met sy vee troppe was Roelof Olofsz in 1724 aan die verste voorpunt van die kolonie. `n Jaar later op 8 Maart 1725 kry Cornelis van Roijen weiregte " aan de Buffeljachts rivier, over de berg, genaamt Tradouw"  (Tomlinson p 57) Tradouw lê net wes van Grootvadersbosch. Burrows noem ook van Roijen se weiregte van 1725 te "Tradouw, gelegen aan de Buffeljachts rivier".  Burrows meen egter dat dit Melkhoutboom moet wees, maar Roelof Olofsz het slegs ses maande van te vore daar weiregte gekry. Dit kom eerder voor of dit eerder die huidige Tradouw plaas kon wees, net wes van Melkhoutboom. Verder het Roelof Olofsz eers weer 6 jaar later op 14 November 1730 ander weiregte by gekry nl te Palmiet River naby die huidige Riversdal. Verdere weiregte wat aan Olofsz  toegeken was op 5 Oktober 1747 "om skape te wei te Brakkekuil geleë aan de Vlackte" naby die huidige Witsand. Ook Liebenberg verwys na Cornelis se weiregte te Tradouw en raporteer in haar skrywe as volg: "Cornelis van Rooyen 24.4.1731 permitted to graze his sheep at Tradouw on the Buffeljagts River " Hier gee sy die datum van Cornelis se aankoms in die vallei as 24 April 1731 en nie 1725 nie. Cornelis verkoop sy plaas “Nabygelegen” Bovlei distrik Wellington, eers in 1741 aan Pierre du Plessis.  Van Roijen is afkomstig van Gorinchem aan die Merwederivier in die provinsie Suid-Holland en kom in 1714 in die Kaap aan. In sy eerste huwelik trou hy met Jacomijntje Gerritsz van Deventer in 1720 te Drakenstein (vandag Paarl). Uit die huwelik was daar elf kinders gebore. Die 4de kind, Reynier (a1b4) sou later Grootvadersbosch aan de Kruisrivier bekom. Cornelis se dogter Johanna (a1b5) trou met Jan Jakob Kok van Kruisrivier. Cornelis was lid van die eerste Heemraad op Roodezand (vandag Tulbagh) en word in ook in 1745 een van Swellendam se eerste heemrade saam met Jan Loots, Andries Holshausen en Jacobus Botha (de oude). My eie gevoel is ook dat van Rooijen eers heelwat later na Swellendam distrik verhuis en slegs sy vee op Tradouw as `n buite plaas laat wei het aangesien hy heemraad op Roodezand was en eers in 1745 heemraad op Swellendam geword het. 

Nog `n eienaar van Tradouw was Louis Fourie (b6) wat weiregte ontvang het. Datums word ongelukkig nie verskaf nie. (Sy vader was ook Louis Fourie geb 1669 in Pointaix, Dauphine, Frankryk) Louis gebore in 1703, word heemraad van Swellendam in 1751 tot 1758. (Louis bekom ook "Doornboom aan de Duivenhoks " waar hy gaan woon. Heidelberg sou later in 1855 op sy plaas ontstaan. Wikipedia noem: " 1716, Louis Fourie (1690s–1767) obtained grazing rights from Governor van der Stel and he settled alongside the Duivenhoks River." Louis snr kon egter nie op Doornboom gaan woon het nie want hy het in 1699 op die landgoed De Slangerivier naby Wellington gewoon, wat aan hom toegeken is. Hy en sy vrou is albei ook op De Slangerivier begrawe terwyl Louis Jnr daar gebore is. Louis jnr was ook net 13 indien Doornboom wel aan sy vader as weiplaas toegeken is. Dit was eerder die 30 jarige Louis Jnr in wie se naam Doornboom in 1733 geregistreer was en waar hy gaan woon het. Dit is ook hy wat die ou Fourie huis daar gebou het.  Die Fourie huis is enkele jare terug gerestoureer nadat dit bykans `n bouval was. (Dit was my voorreg om te sien hoe Jan Geldenhuys en sy seun Carel met hul bouspan destyds hierdie huis herstel het deur klei en strooi te trap om die mure met klei te herstel en op te bou. Vandag is dit `n museum en die moeite werd om na hierdie huis te gaan kyk.)  Louis Fourie was getroud met Susanna Le Rich. Die plankundige Thunberg met sy geselskap sou later jare by Susanna (toe `n weduwee) oorbly tydens hul reis in 1773. Thunberg skryf: "...to the widow FORE (Fourie), near Duyvenhok's rivier. On the 11th of November 1773, having taken an early leave of our worthy hostess, we went down to Duyvenhok's river.....". Beide Louis en sy vrou Susanna is op Doornboom begrawe. Deur die egpaar se dogter Susanna (later getroud met Jacobus Steyn ) sou Pres M.T. Steyn eendag hul agter agter agter kleinseun word.

                    Die Fourie huis op Heidelberg (Doornboom) tydens die herstel fase en voltooi.

Melkhoutboom vervolg...

Daar is `n aantekening in `n VOC dokument van1741 dat dit swaar gegaan het met Olofsz: "Oelofsz: Roelof, cannot sell any cattle to pay his lease rent." Op 55 jarige leeftyd sterf Roelof Olofz op 28 November 1749. Volgens sy boedel besit hy twee eiendomme: "1 opstal genaamd de Bracke Kuijl geleegen aan de Vlakte, (Heel moontlik Brakke Kuil 465 oppad na Witsand) en 1 opstal genaamd de Palmietrivier geleegen aan de Palmiete Rivier" (Moontlik Palmietrivier 294 digby Riversdal). Soos die kraai vlieg, was die twee eiendomme sowat 50 km van mekaar gelee. Sy boedel het beloop: "113 beesten groot en klijn, 1030 schaapen groot en klijn, 5 paerden., 1 halfsleete ossewagen , 1 ploeg, 1 eg met houte tanden, 2 bottervaaten, 1 kern, 5 oude emmers, 2 stoelen, 1 oude tafel, 2 oude rakjes, 1 oude kadel en verder 1 slavinne genaamd Lea van Rio de la Goa (Rio de La Goa het later Delagoabaai geword en is vandag Maputo) met haare vier kinderen , Piternella van de Caab, Eva van de Caab, Dina van de Caab en Arend van de Caab."

Jacobus Steyn en `n Republiek vir Swellendam in 1795
 `n Jaar na die afsterwe van Roelof Olofsz bekom Jacobus Steyn b1c8 (geb 1723) die plaas Melkhoutboom in 1750. Twee jaar later vestig Jacobus Steyn homself op Melkhoutboom. Jacobus trou met Susanna Fourie (c2) in 1755, dogter van Louis Fourie van "Tradouw, gelegen aan de Buffeljachts rivier"  en "Doornboom aan de Duivenhoks".  Jacobus se broer Hermanus (de oue) vestig hom op die plaas Jan Harmansgat buite Swellendam. (Jan Harmansgat wat eers aan Jan Harms behoort het le op die pad vanaf Swellendam na Ashton.)

Van Jacobus Steyn kan baie gese word. Hy was `n gebore leier en die mantel van sy voorganger Roelof Olofsz met die titel as "Grootvader" het hom toegeval. Hy word tot verskeie belangrike posisies verkies. Hy was lid van die Heemraad, `n burgerkornet, ritmeester van die eerste kompanjie van Swellendam se landmilisie en lid van die Krygsraad. In 1795 word hy lid van die Nasionale vergadering van die Republiek van Swellendam onder sy broers kind Hermanus Steyn (de jonge) wat as president verkies is.

Jacobus het vooruit geboer en het `n ryk en vermoënde man geword. Hy het Melkhoutboom tot `n spogplaas opgebou. `n Plaas wat Hendrik van As en in later jare Benjamin Moodie, nie kon miskyk nie. Jacobus het al sy kinders op Melkhoutboom groot gemaak in die ou opstal wat hyself gebou het. Vandag is die opstal die woning van Keith en Michelle Moodie, nasate van Benjamin Moodie.

Met sy dood in 1801 is "Grootvader" Jacobus Steyn op sy plaas in Grootvadersbosch begrawe. Die ligging van die graf is egter nie bekend nie .

Presidente M.T. Steyn die agter agter kleinseun van Jacobus Steyn

Marthinus Steyn, die jongste van Jacobus se 13 kinders, is in 1775 op Melkhoutboom gebore. Marthinus trou met Maria Elisabeth du Preez (b6c6d5e3) (geb 1778) van die plaas Krombeksrivier buite die huidige Heidelberg. Maria se oupagrootjie, Jacob du Preez was die broer van Philppe du Preez (b6c4) wat 1740 op " Goede Hoop, Grootvadersbosch " 1740 geboer het. Marthinus sou later in 1833 die eienaar van die plaas Klipperivier word ( net buite Swellendam) en die ou prag opstal daar bou. Sy seun Pieter Gysbert Steyn begin `n wa makery in Swellendam en word die eienaar van die Drosdy in 1855. Pieter Gysbert se oudste seun Marthinus bedryf later die wa makery maar die brand af in 1853. Hy verlaat Swellendam om in Winburg in die Vrystaat te gaan boer. Dit is hier waar sy vierde kind Marthinus Teunis Steyn gebore is in 1857, dit is in dieselfde jaar wat sy oupa Pieter Gysbert in Swellendam oorlede is. M.T. Steyn sou later die laaste president van die Republiek van die Vrystaat word. Interessant is dat President Paul Kruger van die ZAR `n agter agter kleinneef was van M.T. Steyn ook via die Steyns, maar vanuit Hermanus Steyn, Jacobus Steyn se broer.

            Pieter Gysbert Steyn (geb 1804)       Marthinus Steyn (geb 1827)      Pres M.T. Steyn (geb 1857)

 

                                                Die stamboom van presidente Steyn en Kruger

Verdere eienaars

Hendrik Van As

Hendrik Van As (getroud met Gesina Leonora MODEMAN in 1792) is in 1772 gebore te Dordrecht, Nederland.  1792 arriveer hy aan die Kaap en staan in diens van die Hollandse Oos Indiese Kompanjie. Kort na die dood van Jacobus Steyn in 1801, is die plaas Melkhoutenboom verkoop aan Hendrik van As. Van As was veldkornet van Swellendam en het ook die titel „opsigter van Grootvadersbosch“ gehad.  Vir 17 jaar besit "Grootvader"  Hendrik Van As die plaas Melkhoutboom voordat hy dit verkoop. Van As sterf in 1826.

(Daar is `n skakel na my eie familie. `n Agter kleinseun van Hendrik van As, naamlik Albertus Muller Van As (geb 1877) trou met my oupa Matthys Johannes Swart se suster Petronella Anna Swart. Soos Geni dit aan my stel: "Hendrik van As is your great uncle's great grandfather.")

Benjamin Moodie, tiende „Laird of Melsetter,"

Bykans `n 100 jaar nadat weiregte te Grootvadersbosch aan Roelof Olafsz toegeken is, word Melkhoutboom in 1818 verkoop aan Benjamin Moodie, tiende „Laird of Melsetter," Orkney, Skotland, uit die geslag van Robert the Bruce, Koning van Skotland. Die koopsom het 8 000 riksdalers beloop. Gebore op 1 Januarie 1789 het Benjamin as oudste seun van sy vader gedurende 1817 enigste erfgenaam in die landgoed geword. Sy vooruitsigte in Skotland het hom nie aangestaan nie en die plan het by hom opgekom om na een van die kolonies te emigreer en daarby 'n nedersettingskema te probeer. Hy het Suid-Afrika vir sy doel uitgekies en Melkhoutboom by van As aangekoop.

Op Melkhouboom is ook die bekende Thomas Dunbar Moodie, kleinseun van Benjamin Moodie, gebore. Thomas met die bynaam Groot Tom het hom in die Vrystaat gevestig en was later die leier van die Moodie trek van 1892 vanuit die Vrystaat na Melsetter, Rhodesie.

Benjamin Moodie, tiende „Laird of Melsetter," Orkneys, Skotland, uit die geslag van Robert the Bruce, Koning van Skotland.

Thomas Dunbar Moodie, met die bynaam Groot Tom het hom in die Vrystaat gevestig en was later die leier van die Moodie trek van 1892 vanuit die Vrystaat na Melsetter, Rhodesie.

Melkhoutboom is later deur Benjamin Moodie en nasate opgedeel in verskeie kleiner eiendomme en dra name van Skotse oorsprong, onder andere Dun Donald,  Glen Etive, Braemar en Glen Moodie.  `n Deel van Melkhoutboom waarop Jacobus Steyn se opstal gelee is, is vandag steeds in die besit van die Moodie familie. Dun Donald is waarskynlik vernoem na die twee broers van Benjamin Moodie wat hom na Suid Afrika vergesel het naamlik Dunbar en Donald. Glen Etive is vernoem na die Glen Etive vallei en Braemar na `n dorpie in Aberdeenshire met dieselfde naam, albei in die Skotse Hooglande.

2) Grootvadersbosch gelegen aan die Kruisrivier  

Gerrit van Emmenes is gebore in 1704 te Stellenbosch en oorlede ci 1769. Sy vader Albert van Emmenes is in Leiden Nederland gebore.  Wanneer Gerrit van Emmenes na Grootvadersbosch gekom het is aan skrywer nie bekend nie, maar dat hy in agter Kogmanskloof  gewoon het is bekend en dat hy daar dood is in 1769. Die moontlikheid dat hy daar gewoon en Kruisrivier net as veepos gebruik het, is ook `n moontlikheid aangesien dit `n algemene gebruik was om elders weiregte te he of `n plaas te pag. L.L.Tomlinson noem dat Jan Jacob Kok (Johannes Jacobus Kock)  by Gerrit Emmenes in 1748 oorgeneem het. Jan Jacob Kok is in 1710 Sachsenhausen, Waldeck, Hesse, Duitsland gebore en kom as soldaat na die Kaap. Hy word vryburger en boer op Kruisrivier vanaf 1748. Kok het met Johanna van Rooyen getrou op 8 Oktober 1747. Sy was die dogter van Cornelius van Rooyen wat op Tradouw weiregte gekry het en heemraadgeword het in 1745.  Rondom 1753 vertrek Kok na `n plaas naby die huidige Jeffreysbaai aan die Seekoei rivier. "Both Thunberg and Sparrman write with affection and respect of Jacob Kock. a one-time elephant hunter and later a wealthy cattle farmer . Thunberg visited him in 1772 and 1773 'near the mouth of the Sea Cow River and the Meulen Riviers Mountains'. Thunberg skryf: "This farm was almost the farthermost of the colony on this side." Sparrman spent some weeks with him in November 1775, and again a few days in March 1776. In his Voyage to the Cape of Good Hope, Sparrman speaks of him as "an honest old colonist, by nation, if I remember right, a Hessian." The Kocks where then quite elderly having come from Grootvadersbosch some twenty years previously". Hy sterf in 1786 op 76 jarige leeftyd.

Reynier van Roijen b4 het in 1753 Kruisrivier by sy swaer Jan Kock oorgeneem. (Reynier was die vierde kind en oudste seun van Cornelis van Roijen  wat weiregte gehad het " aan de Buffeljachts rivier, over de berg genaamt Tradouw") Reynier is gebore op 2 Februarie 1726. Hy was getroud met Hester Gouws. In 1757 verkoop hy die plaas aan Johannes Ulrich Spies. Renier gaan boer op die plaas "aan de Cafferskuyls Rivier” distrik Riversdal. Hy bly daar tot sy dood; Renier van Rooyen is op 17 Julie 1777 op sy plaas oorlede .

Die Spies familie - Johannes Ulrich Spies van Bavaria (Beiere) 

Johannes Ulrich Spies gebore 1730 te Amberg, Upper Palatinate, Bavaria,Duitsland en kom as boukneg na die Kaap in 1754. Hy trou met Anna Johanna Fredrika Beukes in 1755. Twee jaar later koop hy die plaas Grootvadersbosch aan de Kruisrivier. Elmien Wood skryf: "Met die aankoms van Johannes Ulrich Spies het daar al vir om en by 100 jaar Europeërs aan die Kaap gebly. Die Duitse aankomelinge het ʼn kultuur en
omgewing van ou kerke, riviervaart, vakmanskap en standverskille verlaat en hier ʼn nuwe wêreld aangetref. Die nuwe aankomelinge kon nie hierdie wêreld verander nie, hulle moes aanpas."  Anna Beukes, vrou van Johannes Spies, was die agtste kind van Johann Beukes en Jacomina Visser, die dogter van Jan Coenraad Visser en Margaretha Gerrits. Anna se pa was Duits en haar ma Nederlands en Anna kon waarskynlik Duits sowel as Nederlands praat. Op 26 Januarie 1757 teken Johannes Spies ’n kontrak om “met sy vee te gaan lê” op die plaas Grootvadersbosch aan die Kruisrivier en rekognisiegeld van 24 riksdaalder per jaar te betaal. 

14 Jaar later op 38 jarige ouderdom, sterf Johannes in 1769 en word begrawe op Kruisrivier. Die ystervrou, Anna Johanna Fredrika Spies (Beukes),  weduwee van Johannes Ulrich Spies, oorleef haar man met meer as 30 jaar en bou die plaas op tot `n spogplaas. Op die 19de November 1782 word daar ook aan die weduwee Spies toestemming verleen om met haar vee te gaan lê op die verlate plaas ’t Oude Bosch, geleë aan
die Duivenhoksrivier.  Anna Spies sterf in 1809 en word ook op Kruisrivier begrawe.  Oor Anna Spies se dood skryf  Wood: "Dit was die einde van ʼn era. Die kinders wat sy agterllaat was lankal nie meer Europeërs nie. Hulle was, soos wat Hendrik Biebou gesê het, Afrikaners. Dit was ook baie naby aan die einde van ʼn leefwyse en omgewing waarmee die Kapenaars bekend was, want die Kaap was op die drumpel van ingrypende veranderinge."  Met Johannes Spies se dood het hy 65 beeste, wat teen nege gulde (drie riksdaalders) elk gewaardeer is en 383 skape teen een gulde (⅓ riksdaalder) elk gewaardeer is, gehad.  Die heel grootste bate in sy boedel was egter die drie slawe. Hulle is gesamentlik teen 300 riksdaalders gewaardeer (tabel 5.7).

Anna Spies was `n ystervrou, maar dit het in die familie geloop. Elmien Wood skryf oor Anna se suster nl Maria Beukes : "Die landdros van Stellenbosch, Pieter Lourens, het op ’n keer met sy besoek aan die kasteel, die goewerneur Swellengrebel vertel van ’n insident waar ’n vrou baie dapper opgetree het. ’n Leeu is omtrent ’n uur van die landbouer, Jan Rostock,(Matthys Lourens) se plaas aan die warmbad (Goudini) opgemerk (Goudinie le op die R316 tussen Caledon en Napier). Rostock se vrou, Maria Beukes, het in die afwesigheid van die mans op die plaas na die dier gaan soek. Sy is slegs vergesel van ’n klein Khoi-seuntjie. Nie ’n halfuur van haar huis af nie, het hulle onverwags op die leeu naby ’n bossie afgekom. Maria het haar egter nie daaroor ontstel nie, het vinnig van haar perd afgespring en die dier doodgeskiet. Hierdie vrou het baie goed geweet hoe om die geweer te hanteer. Swellengrebel was van mening dat hierdie daad so dapper was dat dit verdien om ’n plek in die dagregister te vind en aan die nageslagte oorgedra te word: “Een daad waarlik te stout en manmoedig om hier inne geen plaats te vinden en aan de nakomelingen niet overgedragen te worden.”

Johannes Jacobus Spies (b1) erf  die woonplaas “Crijsrivier gelegen over Grootvaders Bosch”. Daarby kry hy die smidswinkel. Hy kry ook “brandewyn putte”. Laastens was daar twee balies. Dit alles word gewaardeer teen 600 riksdaalders. Johannes Jacobus kry dus baie uit die boedel, maar daar is ʼn voorwaarde aan
verbonde: hy moes sy twee susters onderhou tot hulle getroud is. 
Johannes Jacobus Spies geb 1758 boer te Kruisrivier en is daar oorlede en begrawe . Landros Buissine beskryf  hom as `n baie eerlike man.  Johannes Jacobus Spies was dertig jaar oud toe hy trou met die 19 jarige Margaretha Johanna Kleynhans. Sy was die dogter van Theodorus Ernst Kleynhans wat op “Grootvadersbosch oor die Kliprivier aan die Duivenhoksrivier”, dit wil sê Klipdrif, gebly het. Toe die egpaar op 28 September 1788 trou was dit ses maande nadat Johannes se moeder Anna Spies (Beukes), oorlede is.

Aan Barend Christoffel Spies (b2) bemaak sy haar ander plaas, “Oudebosch gelegen aan de Plattekloofberg”. Dit blyk dat daar vanaf 1740 ʼn pas oor die Langeberg naby Barend Christoffel Spies
se plaas Oudenbosch geloop het. Die pas het bekend gestaan as die Plattekloofpas, maar op moderne kaarte word dit as Gysmanshoekpas aangegee (Ross 2004: 37-38). Behalwe die plaas kry Barend Christoffel 600 riksdaalders. Barend was getroud met Maria Elizabeth Vosloo.

Anna Spies se dogter Anna Maria was 24 jaar oud, maar volgens die Bataafse wet was sy nog nie mondig nie. Die weduwee Spies bepaal in haar testament dat Anna Maria onder die toesig en voogdyskap van Jacobus Steyn, die oudheemraad en haar buurman van Melkhoutboom moes sorteer. 

Anna Spies se testament is deur Hermanus Steyn, wat later die “president” van die republiek van Swellendam sou word as sekretaris onderteken.

Johannes Jacobus Spies (b1) se drie seuns Barend Jacobus (b2c5)(geb 1798 Kruisrivier,Grootvadersbosch en getroud met Hendrina Elsabe Swart geb 1800), Lodewyk Petrus (b2c4) (geb 1796 Kruisrivier, Grootvadersbosch, oorl 1872 Bloemfontein x Sara Cronje) en Johannes Hermanus (b2c2) (geb 1792 Kruisrivier, Grootvadersbosch oorl 1855 George) verkoop Grootvadersbosch gelegen aan de Kruijs rivier in Januarie 1838 vir 22 000 Kaapse gulde aan Benjamin Moodie. Na 80 jaar wat die Spiese Grootvadersbosch besit het, het eienaarskap na die Moodies oorgegaan. Groot dele van Kruisrivier is steeds in besit van die nageslag van Benjamin Moodie. Die oorblyfsels van die Spies woning is steeds te siene wanneer daar van Strawberryhill se kant af genader word. Die naby gelee grafte is ook die van die Spies familie.

 

Reis verhale oor Kruisrivier en die Spiese

Op 6 September 1775, het Sparrman op die plaas van die weduwee Spies vertoef. In die Engelse vertaling noem hy die plaas “Kross-rivier” wat waarskynlik net so uit die Sweeds oorgeneem is en wat Kruisrivier moet wees. Sparrman het daar oorgebly tot 10 September. In 1777 was daar in die weduwee Spies se huishouding twee jongmans wat die boerdery kon behartig: Johannes Hermanus Coers (Anna Spies se seun uit vorige huwelik) wat 33 jaar oud was en Johannes Jacobus Spies wat negentien jaar oud was. Barend Christoffel Spies was nog so jonk dat hy as ’n seun beskou is, naamlik vyftien jaar. Daar bestaan dus ’n sterk moontlikheid dat Sparrman met hulle in kontak gekom en gesprekke met hulle gevoer het (Sparrman 1785a: 235, 237).

Dit is in verband met die bos op Grootvadersbosch dat die joernaal van Pieter Cloete oor die reis van Hendrik Swellengrebel in 1776 verklaar: ,,Reden 's namiddags te paard na`t Grootvadersbosch ¾ uur van hier (dws vanaf Duivenhoksrivier) in de kloven tegen 't gebergte geleegen, aan dit bosch legt een plaats van de weduwee Spies. Dit bosch strekt zich een uur of twee langs het gebergte uit, maar het timmerhout is er bijna geheel uijtgehakt zodat men niet dan kromme en slegte boomen ziet."

Die reisiger Le Vaillant raporteer in 1782 oor sy reis deur Grootvadersbosch en sy aanraking met die Spiese. Wood skryf as volg:  "Omdat hulle nie oor die Duivenhoksrivier kon kom nie, het hulle aan die kant van die bos hulle tente opgeslaan. Le Vaillant gebruik die uitroep: “Quelle fatalité!” (Wat ʼn noodlottigheid!) waarmee hy seker bedoel dat hy ’n fout gemaak het, want die inwoners van die omgewing het, nadat hulle van sy aankoms gehoor het, hom besoek (Le Vaillant 1798: 132). Hulle het hom moeg gemaak met hulle lang redevoerings en hulle uitnodigings om by hulle oor te bly. Hulle het hom vertel van ander reisigers wat hulle ontvang het, in besonder Sparrman. Le Vaillant was egter vasbeslote om nie sy kamp te verlaat nie. Hy gee baie redes daarvoor, onder meer dat hy dalk verplig sou voel om van sy kosbare “eau-du-vie” (brandewyn) aan te bied om hulle vervelige gesprekke mee op te kikker. Hy gaan verder deur te sê dat, alhoewel hy kennis neem van die gebruike van beskaafde mense, hy dit as ’n hindernis tot sy vryheid beskou, al het hy as jongeling in Suriname met sosiale konvensies te doen gekry (Le Vaillant 1796a: 132; 1798: 133). Sy kommentaar klink vreemd; dit is die kommentaar van iemand wat geen erg het aan sosiale verkeer tussen mense nie. Die moontlikheid is baie groot dat die Spies-broers en Hermanus Coers van die besoekers was wat Le Vaillant so verveel het."

 

Die murasie van die ou opstal en verskillende grafte van die familie Spies is nog sigbaar. Aan hierdie plaas kleef ook die legende van  Spies (moontlik Johannes Jacobus) se 8oo pond in riksdalers. Die oorlewering wil dat hy op 'n dag perde vir daardie bedrag verkoop het, die geld gebere het en dieselfde nag oorlede is. Baie soektogte is reeds onderneem, maar die geheim van ou Spies se bereplek bly onopgelos. 

 

                                                                     Lodewyk Petrus Spies, b2c4

Vandag bestaan die Kruisrivier plaas uit verskeie dele o.a. `n deel van Grootvadersbosch natuur reservaat van Cape Nature, Strawberry hill en Honeywood. Strawberry hill en Honeywood is steeds in besit van Benjamin Moodie se nageslag.

3) Grootvadersbosch gelegen over de Klip rivier (Goede Hoop) 1740

  
Grootvadersbosch gelegen over de Kliprivier of ook genoem Goede Hoop, is in 1740 toegestaan aan Philippe du Preez en sy vrou Isabella Potgieter (b1c3).  Philppe se oupa, Hercules des Prez en sy ouma Cecilia D`Atis, het as Franse Hugenote na die Kaap gekom in 1688 met die skip "De Schelde" en is die stamvader van die du Preez in Suid Afrika.  Philip se oom, Hercules Du Preez, was in 1707 saam met Adam Tas toegesluit omdat hul teen Willem Adriaan van der Stel in opstand was. Philip boer vir 25 jaar op Goede Hoop en is oorlede op 11 Desember 1765. Hy word te Goede Hoop, Grootvadersbosch begrawe. 

Dirk “Craffort” arriveer in 1724 as adelbors op die skip, die Stad Leiden, aan die Kaap. Hy trou met Rachel Joubert, die elfde kind van die stamvader Pierre Joubert en sy vrou, Isabeau Richard.  Dirk Crafford het eers op Romansrivier in die Land van Waveren geboer. Dit was die buurplaas van De Plaisante, die plaas van Rachel se vader, Pierre Joubert. Hy trek na Swellendam en vestig hom op Grootvadersbosch aan die ander kant van die “Klipperivier” In 1799 dra sy seun Jan Crafford die plaas "Grootvadersbosch aan die ander kant van die “Klipperivier” aan Jan Frederik Zeiler oor (SAG 17: 74). Dit moet wees die plaas Goedehoop (Grootvadersbosch gelegen over die Kliprivier).

4) Grootvadersbosch gelegen over de Kliprivier  aan het Duivenhoksrivier (Klipdrift) 1741


Rekords wys dat  Jan Myndertse Cruywagen (b1c1) geb 1695 op Kliprivier geboer het voor Christaan Jacobus de Jager (geb 1709) die plaas by hom oorgeneem het in 1741. Cruywagen sterf in 1745. In 1743 trou de Jager met sy buurman Philip du Preez van Goede Hoop, se dogter Elizabeth. In 1747 sterf Christiaan in Drakenstein.

Die Kleynhans Stamvader Theodorus Ernst Kleynhans (van Wagenfeld, Nedersakse, aangekom met die skip Gerechtigheid in 1747) was ’n wamaker en het op “Grootvadersbosch oor die Kliprivier aan die Duivenhoksrivier”, dit wil sê Klipdrif, gebly (Hoge 1946: 205; SAG 4: 324). Kleynhans het nooit vryburgerskap aanvaar nie, maar het in Augustus 1752 ’n leenkneg geword. Sy skeepsoldyrekening word bygehou tot en met 1792 en dit is waarskynlik die jaar waarin hy oorlede is (VOC Opvarenden: Cleijn Hars). Volgens sy
opgaaf het Theodorus baie wingerdstokke aangeplant. 

Die eerste skool in die Swellendam distrik te Grootvadersbosch 1744

Tydens `n besoek aan die buite poste deur die VOC se goewerneur generaal Van Imhoff, was hy uiters geskok oor die gebrek aan onderig in die gebied. Op sy voorstel moes sieketroosters aangestel word om die tekort aan onderwysers reg te stel. `n Sieketrooster het gewoonlik na die geestelike welstand van die mense omgesien deur lering te gee en selfs ook te preek. In 1744 het die skip Ouwekerk die Kaap aangedoen tydens sy retoer tog vanaf die ooste. Die skip se sieketrooster indiens van die VOC was Abraham Schietekat. Omdat daar niemand in die Kaap gekwalifiseer was om die pos op die Swellendamse oosgrens te vul nie, is Schietekat van die skip afgehaal en deur die goewerneur aangese om na Grootvadersbosch te vertrek om daar `n skool te begin en as skoolmeester op te tree. Sy taak was om kinders te leer lees en skryf en hul vir katkisasie en aanneming voor te berei. Sy vrou en kinders is toe deur die VOC vanaf Nederland na die Kaap gestuur om by Schietekat aan te sluit. Op Melkhoutboom te Grootvadersbosch is die eerste skool in die Swellendam distrik opgerig , `n jaar voor die proklamasie van Swellendam as dorp in 1745. In 1744 het die volgende persone heel moontlik nog in die area geboer nl Roelof Olafsz te Melkhoutboom, Cornelis van Rooijen te Tradouw en het Schietekat moontlik skool gegee vir die kinders van Gerrit Emmenes van Kruisrivier en die kinders van Philippe du Preez en sy vrou Isabella Potgieter wat op Goedehoop gewoon het. Die ander plase wat teen 1744 in die omgewing uitgegee was is o.a. Coesters valleij ( Hedendaagse Lismore), Swellengift en Bontebokskloof.

Volgens alle verslae het Schietekat hom uitstekend van sy taak gekwyt. Met die bou van `n pel-meule in Grootvadersbosch, is hy in beheer gestel van die oprigting en bestuur van die meule. ʼn Pelmeule verwerk graan in gort, dit wil sê dit verwyder net die dop van die graan sonder om dit fyn te maal .Schietekat was vanaf 1745 tot 1748 in diens. Schietekat sterf op 19 Julie 1768, toevallig in dieselfde jaar as Johannes Spies van Kruisrivier. 

Die buitepos Riet Valleij


In 1729 is `n buitepos ongeveer 10km wes van Grootvadersbosch gestig. Die pos is beman met `n Korporaal en sewe dragonders. Die ligging was so uitgekies sodat dit naby die woud sou wees. Hier is die kompanjie se jong vee aangehou en is daar ook van die oorblywende Koina vee geruil. Verder het die buitepos `n ogie oor die woud gehou sodat veeboere en ander persone nie daar bome afkap nie. Deur die verslae wat deur die buitepos by gehou is kan `n mens ook `n goeie idee kry met watter peste en plae die eerste boere van Grootvadersbosch geteister was.  In `n opgaaf is van 1743 is aangedui dat daar 690 stuks vee by die pos aangehou was. Aan die begin jare het wildehonde die meeste vee gedood en daarna luiperds en dan leeus. Na 1760 was die grootste oorsaak van vrektes stywesiekte, sponsiekte en die eet van giftige plante, waarskynlik tulpe of klimop. In 1763 is 104 perde dood weens perdesiekte net 17 het oorleef en van hulle is boonop nog in die omgewing opgekoop. Toe daar in 1773 weer perde siekte uitbreek is die Kompanjie se perde vanaf Rietvaleij suidwaarts na Potte Berg (Naby vandag se De Hoop natuurreservaat) verskuif. Die burger H. Tessenaar sou na die perde omsien. 

                                                    Die buitepos Rietvaleij is in 1729 uit gelê

 

Besoekers en Reisigers


In 1768 maak Sekunde J.W. Cloppenburg `n opname van houtvoorraad in die Grootvadersbosch en berig dat deur slordige werksmetodes baie van die hout verlore gegaan het en dat die bos reeds ernstig uitgedun was. Deur die jare heen het verskeie bekende persone die gebied besoek, die plantkundige Carl Peter Thunberg het in 1774 berig dat die volgende bome in die woud aangetref is: Swartysterhout (vir asse en disselbome), Geelhout ( vir balke, planke, tafels, deure, kaste, rame en karrings), Kamassiehout (`n struik wat dun strokies afwerking aan meubels verleen), Rooipeerhout (vir onderdele van waens), Boekenhout (wawiele), Rooielshout (wawiele en stoele), Essenhout (Vir gereedskap), Stinkhout (klerekaste, banke, stoele, tafels en kosbare meubels), Olyfhout / Olienhout (meule en stoele), Katjiepieringhout (Knuppels), Witessenhout (planke, wa-rakke en skoenmakers banke),Swartbashout (Waens en jukke), Keurboomhout (waens en wiele), Amandelhout (Skoenlese en skoen hakke), Assegaaihout (assegaaie en disselbome), Doringhout (Jukke, remskoene en houtskool), Waboomhout (Brandhout) en Kreupelhout (lepels, houtbakke en looiersbas) In hierdie woud is die bosbok vir die eerste maal deur 'n Europese wetenskaplike opgeteken toe die Sweed Anders Sparrman die streek in 1776 besoek het. In 1777 was die hele bos feitlik uitgekap. Francis Masson, die reisiger en anvonturier Francois le Vaillant besoek Grootvadersbosch in 1782, die sendeling en plantkundige James Backhouse en die sendeling dr. John Philip besoek in 1830.

                                                                 Sparrman se kaart van 1775

 

Oor Sparrman se reise skryf Mentzel : (Otto Frederick Mentzel, the son of a medical doctor, was born in Berlin in 1710. He was well educated and as a young man served in the army of the King of Prussia. He came to the Cape as a soldier, even though his education was above that of the common soldier who enlisted in the Dutch East India Company)

."This expedition was one of the most dangerous, toilsome and difficult ever undertaken in the interests of the Sciences ; of natural science, of the fauna and flora and the acquisition of knowledge of an unknown land. They had to fight in those desolate and uncivilized regions not only against the hardships of travelling on unbeaten tracks over mountains and rocks, over broad and dangerous rivers, but also against hunger and thirst, and savage bloodthirsty animals. Sparrman, a man of the greatest honesty and integrity, therefore deserves eternal thanks for the discoveries he made known which it is to be hoped will provide the opportunity of investigating more closely the principal features of the country explored by him."

                                     Die twee Swede, Anders Sparrman en Carl Peter Thunberg

1776 skets van Schumacher van Grootvadersbosch. Let op die woud wat nog oor was in daardie tyd.

Min of meer vanwaar Schumacher die skets van Grootvadersbosch gemaak het. Die ou pad het meer na lings aan die voet van die heuwels geloop as die huidige pad. 

In 1773 vind Thunberg die volgende mense op die volgende plase rondom Grootvadersbosch; "On the 10th, passing by PIETER BOTA's farm, called Rietkuyl, we crossed Kerremelk's (Karringmelks rivier) and Slange rivers to the widow FORE (Fourie), near Duyvenhok's rivier. On the 11th of November, having taken an early leave of our worthy hostess, we went down to Duyvenhoek's river, which was at a short distance from the farm. (Die Fourie plaas sou later die dorpie Heidelberg word. Dit was die ou Fourie huis op Heidelberg waar Thunberg oornag het. Hierdie huis is ouer as Swellendam wat in 1745 geproklameer was.) We continued our journey the whole day without the farther interruption, and passing by CHRISTOPHER LOMBART's farm, went to another belonging to DANIEL PLAISIR, where we arrived before evening, and were kindly received."

Die Taal in Grootvadersbosch 

Die inwoners van die eerste 100 jaar in Grootvadersbosch was almal deel van die ontwikkeling van `n nuwe taal en volk. Die eerste inwoners vorm `n mengelmoes van herkoms, kulture en tale. So bv Roelof Olofsz is gebore aan die Kaap, maar sy vader is gebore in Noorwee.

Cornelis van Roijen kom uit Suid Holland, Gerrit van Emmenis kom uit Nederland, so ook Hendrik van As en dan is Jan Crafford se pa ook daar gebore. Jan Kok kom uit Hesse, Duitsland, Johannes Spies vanuit Beire in suid Duitsland en hoewel Jan Frederick Zeiler as Johann Friedrich Zeyler in Hongarye gebore is, is sy familienaam van Duitse afkoms. Ook Theodorus Ernst Kleynhans is in Nedersakse, Duitsland gebore. Philippe du Preez se ouers was weer van Franse Hugenote afkoms. Die eerste inwoners wat wel op Afrika gebore is was Roelof Olofsz, Reynier van Rooijen, Gerrit van Emmenis, Johan Mijndertze Cruijwagen en Christiaan Jacobus de Jager en Johannes Spies se kinders, almal die eerste generasie in Suid Afrika. Die Steyns was `n ouer familie aan die Kaap en Jacobus Steyn was reeds die twede generasie.

Menzel wat 1741 die Kaap verlaat het maak die volgende interressante waarneming in sy boek t.o.v. sy besoek in die binnelandse distrikte: "Die taal wat die mense in die distrikte praat, is net so ver van suiwer Nederlands as dié van die Duitse boere van suiwer Duits. Hulle is baie lief daarvoor om na Hoogduits te luister en selfs meer om na dit te luister wanneer dit gesing word. Hulle verstaan ​​ook Hoogduits beter as Duits uit Nedersakse, waaroor hul gewoonlik lag en dit 'n krom taal noem want hulle kan dit nie verstaan ​​nie."  

Met die byvoeging van `n Skotse familie het Engels as taal bykans `n 100 jaar later, Grootvadersbosch ingekom met Benjamin Moodie se aankoop van Melkhoutboom by Hendrik van As in 1818.

GVB families trou onder mekaar

Weens die afgelee aard van die ou plase het dit menigmaal gebeur dat lewensmaats op buurplase gesoek is. Dit was dan ook die geval met Grootvadersbosch.

  • 1743: Jacobus de Jager (geb 1709) van Klipdrif, trou met Elisabeth du Preez, die dogter van Phillip du Preez, sy buurman van Goedehoop.. 
  • 1747: Jan Jacob Kok van Kruisrivier trou met Johanna van Rooyen, die dogter van Cornelis van Rooyen van Tradouw.
  • 1755: Jacobus Steyn van Melkhoutboom, trou met Susanna Fourie, dogter van Louis Fourie wat weiregte op Tradouw het, en wat woon op Doornboom.(Heidelberg vandag)
  • +- 1760: Johannes Fourie (seun van Louis Fourie) trou met Cecilia Johanna Du Preez. die dogter van Phillip du Preez (Goedehoop) en sy is die suster van Elisabeth du Preez wat met Jacob de Jager (Klipdrif) getroud is.
  • 1788: Johannes Jacobus Spies van Kruisrivier trou met Margaretha Johanna Kleynhans, dogter van Theodorus Ernst Kleynhans van Klipdrif.
  • +_ 1799: Marthinus Steyn gebore op Melkhoutboom trou met Elizabeth du Preez, die dogter van `n niggie van Elisabeth en Cecilia du Preez van Goedehoop.

Ou opstalle in Grootvadersbosch area

Die Melkhoutboom opstal (ca1752)

Die plaas opstal op Melkhoutboom te Grootvadersbosch is een van die twee ouste bestaande woonhuise in die vallei. Volgens Prof L.L. Tomlinson is die huis gebou deur Jacobus Steyn die oorgrootjie van Pres M.T. Steyn van die Vrystaat. Steyn koop die plaas in 1750 maar kom woon eers in 1752 op die plaas. Is dit moontlik dat hy eers die huis laat bou het voordat hy getrek het? Hierdie opstal is dus moontlik kort na 1750 gebou

 

                                                                               Aansig van bo


                              Noordwestelike aansig van die opstal op Melkhoutboom, Grootvadersbosch.

                                                                       Suidwestelike aansig.

 

Die ou Opstal aan de Tradouw 

Op  Tradouw, staan `n baie ou opstal wat ook dateer vanuit die middel tot laat 1700's. ( Huidig is Prof Theo Kleynhans die eienaar.)  Min is bekend oor die huis se ontstaan en moet daar navorsing gedoen word aangesien dit ook `n baie besonder ou huis is.

 

 

 

 

Die T vormige woonhuis van meer as 250 jaar oud.  

 

 

 

 

 

                          Tradouw se plaashuis (Westelike aansig) dateer uit die mid 1700.

                                                            Tradouw se suidelike aansig.  

 

 Diere van die Grootvadersbosch

Die swart luiperds van Grootvadersbosch

In 1775 teken Sparrman op dat hy deur swart luiperds in Grootvadersbosch gejaag was. Hul was charcoal van kleur en kon die dowwe kolle waargeneem word. Enkele ander gevalle is ook al opgeteken in die verlede waar swart luiperds waargeneem is.

 

Die eerste bosbok deur Sparrman in Grootvadersbosch opgeten

Die bekende Sweedse reisiger Anders Sparrman, was die eerste person ooit wat melding gemaak het van die Bosbok wat hy in 1772 in die Grootvadersbosch tee gekom het. Sparrman noem ook dat hy die bok in die "Houteniquasbosch" verder oos waar geneem het. Hy teken aan dat dit `n baie skaars boksoort was wat tot woude beperk was. Grootvadersbosch was dus die verste wes wat hierdie dier voorgekom het in die 1700's. Vandag kom die bosbok selfs in die Ruggens se rivier lopies voor en selfs in De Hoop en verder wes na Riviersonderend se kant toe.

                                   (Foto: Matthys Swart, geneem op Fleckvieh gasteplaas, Dun Donald)

 

Blou apies ook `n eerste deur Sparrman in die Grootvadersbosch opgeteken.

In September 1775 teken Sparrman die aanwesigheid op van Blou apies  in die Grootvadersbosch. Dit was die verste wes wat Blou apies in Suid Afrika voorgekom het. JWD Moodie teken op dat in die tien jaar na 1819, Blou apies volop in die woude van Grootvadersbosch voorgekom het. Teen 1960 was Blou apies onbekend in die distrik van Swellendam. Anna Rothman van die Swellendam drosdy het op `n vraag aan Lindsay Moodie van Grootvadersbosch die antwoord gekry dat hy nog nooit Blou apies in die gebied gesien het nie en ook nie van gehoor het nie. Vroeg in 2000 is daar vir die eerste keer weer Blou apies deur Cape nature in die reservaat op Grootvadersbosch waargeneem. Vandag in 2019 kom hul volop voor in die Grootvadersbosch vallei waar hul soms `n kopseer is met hul kwaad doen in menigte melkstal en inbraak in gastehuise om by kos uit te kom. Hierdie gedrag het begin deurdat gaste en toeriste die apies begin voer het en hul nou soms `n groot las word.

                                         (Foto: Charlotte Swart, Eland boshut te Fleckvieh gasteplaas, Dun Donald.)

 

 

 

Bronne:

- Geskiedkundige Swellendam,  L.L. Tomlinson, Nasionale Pers Kaapstad, 1943  p41-p47

- Overberg Outspan, A Chronicle of People and Places in the South Western Districts of the Cape, Edmund H. Burrows, Privately printed Swellendam Trust, 1988 p189

- Overberg Odyssey, People, roads and early days. Edmund H. Burrows. Privately printed Swellendam Trust, 1994

- Die VOC aan die Kaap 1652-1795, De Wet/Hattingh/Visagie, PROTEA, 2017

- TRANSKRIBERING VAN VOC-DOKUMENTE IN KAAPSTADSE ARGIEFBEWAARPLEK, Die Ontstaan van Kaapse plekname, Helena Liebenberg (Transkribeerder, TANAP-projek (Okt. 2001 tot Sept. 2003, Toesighoudende Redigeerder, TEPC-projek (Okt. 2004 tot Jan. 2008)

- ’n Genealogiese analise van ’n enkele familie as verteenwoordiging van ’n kultuurgroep: ’n ondersoek na nuwe perspektiewe, April 2019, Promotor: Prof M Burden, Mede-promotor: Dr HF Heese deur Elmien Wood 

- “A complete and authentic geographical and topographical description of the famous and (all things considered) remarkable African Cape of Good Hope” by O.F Mentzel published 1787.

-  TRAVELS IN EUROPE, AFRICA, AND ASIA, MADE BETWEEN THE YEARS 1770 AND 1779. IN FOUR VOLUMES. VOL. II. CONTAINING TWO EXPEDITIONS TO THE INTERIOR PART OF THE COUNTRY,
ADJACENT TO THE CAPE OF GOOD HOPE, AND A VOYAGE TO THE ISLAND OF JAVA;PERFORMED IN THE YEARS 1773, 1774, and 1775. THE THIRD EDITION.BY CHARLES PETER THUNBERG, M. D. Knight of the Order of Vasa, Professor of Botany in the University of Upsal, and Member of various Academies and learned Societies both in Sweden and other Countries, LONDON:, PRINTED FOR F. AND C. RIVINGTON, NO. 62, ST. PAUL'S, CHURCHYARD; AND SOLD BY W. RICHARDSON, CORNHILL, AND T. EGERTON, WHITEHALL, 1796.

- Historical incidence of the larger land mammals in the broader Western and Northern Cape, C.J. Skead, (Eds: Boshoff, A.F. Kerley, G.I.H. Lloyd, P.H), Port Elizabeth: Centre for African Conservation Ecology, Nelson Mandela Metropolitan University, 2011 

- Die Buiteposte, D Sleigh, Protea Boekhuis, 2007

- Ned. Geref. Kerk Swellendam 1798 -1998, Ds Gert van Lill, 1998, Nasionale boekdrukkery

- Potgieter, D.J. et al. (eds) (1970). Standard Encyclopaedia of Southern Africa, Cape Town: NASOU, 4, p. 378.

- www.geni.com , Family Tree and Family history

- CapeFarmMapper3,  https://gis.elsenburg.com/apps/cfm/